Gaan na inhoud

Glass Onion: A Knives Out Mystery

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Glass Onion
Regisseur Rian Johnson
Vervaardiger
  • Ram Bergman
  • Rian Johnson
Draaiboek Rian Johnson
Met
Musiek deur Nathan Johnson
Kinematografie Steve Yedlin
Ateljee T-Street Productions
Verspreider Netflix
Uitgereik 10 September 2022 (2022-09-10), Toroto- Internasionale Rolprentfees
23 Desember 2022 (2022-12-23), Netflix
Speeltyd 139 minute[1]
Land VSA
Taal Engels
IMDb-profiel

Glass Onion (met die subtitel A Knives Out Mystery) is ’n Amerikaanse raaiselrolprent van 2022 wat deur Rian Johnson geskryf en geregisseer is. Dit is ’n selfstandige opvolgprent van Knives Out van 2019 en die tweede aflewering in die Knives Out-rolprentreeks. Daniel Craig keer in Glass Onion terug as die baasspeurder Benoit Blanc terwyl hy ’n nuwe saak aanpak wat gaan om die tegnologiemiljardêr Miles Bron (vertolk deur Edward Norton) en sy naaste vriende.

Die ensemblerolverdeling sluit ook in Janelle Monáe, Kathryn Hahn, Leslie Odom jr., Jessica Henwick, Madelyn Cline, Kate Hudson en Dave Bautista.

Johnson het verskeie rolprente met die Benoit Blanc-karakter oorweeg voor die uitreiking van die eerste prent. ’n Opvolg is in 2020 deur die oorspronklike verspreider, Lionsgate, goedgekeur, maar in Maart 2021 het Netflix die regte op twee Knives Out-opvolgprente gekoop. Verfilming het in Junie en Julie 2021 op die Griekse eiland Spetses plaasgevind, en is tot September in Belgrado voortgesit.

Ná sy wêreldpremière op die rolprentfes in Toronto op 10 September 2022 het Glass Onion op 23 November 2022 ’n beperkte vertoning van 'n week gehad voordat Netflix dit op 23 Desember begin stroom het. Soos sy voorganger, het die prent lof van resensente ontvang, met Johnson se draaiboek en regie, die spel van die akteurs en die musiek wat geprys is; hoewel sommige dit as minderwaardig aan die eerste prent beskou het. Die Amerikaanse National Board of Review het Glass Onion as een van sy toptienprente van 2022 aangewys.

Die rolprent is vir 'n Oscar benoem en het verskeie ander ander pryse gewen. ’n Derde Knives Out-prent, Wake Up Dead Man, is op 26 November 2025 in teaters uitgereik.

Rolverdeling

[wysig | wysig bron]

Storielyn

[wysig | wysig bron]
Leonardo da Vinci se skildery Mona Lisa uit die vroeë 16de eeu speel 'n belangrike rol in die storielyn.

Bederwingswaarskuwing: Die storielyn en/of storie se einde volg hieronder.


In Mei 2020 tydens die covid-19-pandemie hou Miles Bron, die medestigter van die tegnologiemaatskappy Alpha, ’n moordraaiselspeletjie by die Glass Onion, sy herehuis op ’n privaat eiland in Griekeland. Hy stuur uitnodigings met ingewikkelde legkaartbokse aan sy vriendekring, onder andere Andi, wat van die res vervreem is.

Die vriende reis na Miles se eiland. Die bekende speurder Benoit Blanc sluit by hulle aan en beweer Miles het hom genooi; by sy aankoms sê Miles egter privaat aan hom dat ’n ander gas hom waarskynlik as ’n grap genooi het, maar hy laat hom bly. Voor aandete spog Miles met sy glasbeeldhouwerke en die Mona Lisa, wat hy by die Louvre geleen het. Hy onthul ook dat die herehuis aangedryf word deur Klear, ’n waterstofgebaseerde alternatiewe brandstof wat Alpha binnekort gaan verkoop, ondanks die wete dat dit gevaarlik onstabiel is.

Blanc los Miles se moordraaiselspeletjie onmiddellik op en waarsku hom privaat al sy vriende het motiewe om hom te vermoor. Ná ’n argument met die res van die groep storm Andi weg. 'n Vriend, Duke, sterf skielik nadat hy uit Miles se glas gedrink het, en die paniekerige groep vermoed Andi het probeer om Miles te vergiftig. Iemand bel die polisie, maar hulle kan eers die volgende oggend opdaag. Nadat die groep ontdek Duke se pistool is weg, vind ’n kragonderbreking plaas wat die groep laat uitmekaarspat. Blanc vind Andi, maar ’n onsigbare aanvaller skiet haar. Blanc bring die groep weg van die liggaam bymekaar en kondig aan dat hy Andi se moord opgelos het.

In ’n uitgebreide terugflits word gewys Andi het in werklikheid ’n week tevore gesterf, skynbaar deur selfmoord, en dat haar tweelingsuster, Helen, Blanc gehuur het om ondersoek in te stel. Andi het Alpha se ontwikkeling van Klear gestaak weens kommer oor veiligheid, en Miles het haar afgedank. Andi het Miles gedagvaar, maar verloor nadat die ander vriende hulleself aan meineed skuldig gemaak het deur te getuig Miles, en nie Andi nie, het die oorspronklike plan vir Alpha op ’n servet geteken. Kort voor haar dood het Andi aan die groep ’n foto per e-pos gestuur wat wys dat sy die oorspronklike servet het waarop sy die plan geteken het. Helen het vermoed een van die vriende het Andi vermoor en die servet gesteel om Miles en hulleself te beskerm. Omdat Andi se dood nog nie openbare kennis was nie, het Blanc Helen oorreed om haar as Andi by Miles se partytjie voor te doen en hom met die ondersoek te help.

Helen vind uit elkeen van Miles se vriende het Andi se huis besoek op die dag dat sy gesterf het. Helen deursoek die gaste se kamers, maar kry nie die servet nie. Toe Helen geskiet word, keer Andi se joernaal in haar baadjiesak die koeël. Met die ander vriende wat glo sy is dood, deursoek sy Miles se kantoor.

Blanc lei af Miles het vir Andi en Duke vermoor, nadat hy die moontlikheid vroeër verwerp het omdat hy Miles se intelligensie oorskat het. Miles het Andi 'n noodlottige oordosis gegee nadat hy uitgevind het sy het die servet, maar Duke het hom sien wegry van Andi se huis af. Tydens die partytjie sien Duke ’n nuusberig oor Andi se dood en, toe hy besef dat Miles verantwoordelik was, probeer hy hom afpers. Miles vergiftig Duke toe met pynappelsap, waarvoor hy allergies is, en neem Duke se pistool om Helen te skiet.

Helen vind Andi se servet in Miles se kantoor en onthul haar identiteit aan die groep. Miles verbrand die servet en vernietig daarmee die bewys, en sy vriende weier om teen hom te getuig. Blanc sê vir Helen hy het alles gedoen wat hy kon en gaan buitentoe. In ’n woedebui slaan Helen Miles se glasbeeldhouwerke stukkend. Sy steek ’n vreugdevuur aan en gooi ’n stuk Klear in die vuur, wat ’n ontploffing veroorsaak wat die herehuis en die Mona Lisa vernietig, en finaal bewys dit is gevaarlik. Die hele vriendekring besluit toe om teen Miles te getuig.

Ontvangs

[wysig | wysig bron]

Op Rotten Tomatoes was 91% van 434 resensies positief. Die konsensus lui: "Glass Onion bring Benoit Blanc terug vir nóg ’n uiters vermaaklike raaisel, afgerond deur ’n uitstekende ensemble-rolverdeling."[11] Op Metacritic het dit 'n punt van 81 uit 10 gekry, gebaseer op 62 resensies, wat dui op "algemene byval".[12]

Variety se Owen Gleiberman het die film geprys as ’n "groter, pronkeriger, selfs nog ingewikkelder veelfasetraaisel” as die eerste prent.[13] Christy Lemire van RogerEbert.com het die prent 3 uit 4 sterre gegee en geskryf: “Die slim besonderhede, amusante naamverwysings en presies gemikte steke teen die leë roemkultuur hou Johnson se rolprent rats wanneer dit dreig om te sloer.”[14] Peter Bradshaw van The Guardian het dit 4 uit 5 sterre gegee en gesê: “Glass Onion is nooit minder as vermaaklik nie, met sy opeenvolging van A-lys- en A-plus-lys-kameë wat oral opduik.”[15]

Die rolprent se karakters en intrige is vergelyk met hedendaagse sakemagnate. Calder McHugh van Politico het die prent beskryf as ’n "allegorie vir ons almal wat leef met die alomteenwoordige Elon Musk, Donald Trump en Jeff Bezos”,[16] terwyl James Downie van MSNBC beweer het Norton se karakter Miles Bron se “mengsel van grootpratery, hoogmoed en halfgebakte idees sal waarskynlik die Twitter-eienaar en deeltydse motorgeesdriftige Elon Musk in herinnering roep.”[17]

Oor die prent se relevansie tot die oorname van Twitter in 2022 deur Elon Musk, het Rian Johnson opgemerk: “’n Vriend van my het gesê: ‘Man, dit voel of dit vanmiddag geskryf is.’ En dit is maar net ’n verskriklike, verskriklike toeval, weet jy?”[18]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. "Glass Onion: A Knives Out Mystery". Toronto International Film Festival. Besoek op 28 Julie 2022.
  2. 1 2 3 4 5 6 7 8 Travis, Ben (29 Augustus 2022). "Glass Onion: Meet The Characters Of Benoit Blanc's Next Case In Knives Out Sequel – Exclusive Images". Empire. Besoek op 29 Augustus 2022.
  3. Fleming, Mike Jr. (31 Maart 2021). "Netflix Near $400M+ Deal For Knives Out 2 & 3; Daniel Craig & Director Rian Johnson Reprising". Deadline Hollywood. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 12 Mei 2021. Besoek op 3 Julie 2021.
  4. 1 2 Schutt, Mike (23 November 2022). "Glass Onion Ending Explained: The Perfect Mystery". /Film. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 23 November 2022. Besoek op 24 November 2022.
  5. Kroll, Justin (11 Mei 2021). "Knives Out 2: Edward Norton Joins Daniel Craig In Sequel To Rian Johnson's Hit Murder Mystery". Deadline Hollywood. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 12 Mei 2021. Besoek op 11 Mei 2021.
  6. Galuppo, Mia (12 Mei 2021). "Janelle Monae Joins Daniel Craig in Knives Out Sequel (Exclusive)". The Hollywood Reporter. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 12 Mei 2021. Besoek op 12 Mei 2021.
  7. Kroll, Justin (13 Mei 2021). "Knives Out 2: Kathryn Hahn Latest Addition To All-Star Cast In Sequel To Rian Johnson's Hit Murder Mystery". Deadline Hollywood. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 13 Mei 2021. Besoek op 13 Mei 2021.
  8. Galuppo, Mia; Kit, Borys (18 Mei 2021). "Leslie Odom Jr. Joins Daniel Craig in Knives Out 2 (Exclusive)". The Hollywood Reporter. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 Mei 2021. Besoek op 18 Mei 2021.
  9. Galuppo, Mia (20 Mei 2021). "Kate Hudson Joins Knives Out 2 at Netflix (Exclusive)". The Hollywood Reporter. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 20 Mei 2021. Besoek op 20 Mei 2021.
  10. Kroll, Justin (10 Mei 2021). "Knives Out 2: Dave Bautista Joins Daniel Craig In Rian Johnson's Sequel For Netflix". Deadline Hollywood. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 12 Mei 2021. Besoek op 10 Mei 2021.
  11. "Glass Onion". Rotten Tomatoes. Fandango Media. Besoek op 18 Desember 2025.
  12. "Glass Onion". Metacritic. CBS Interactive. Besoek op 18 Desember 2025.
  13. Gleiberman, Owen (10 September 2022). "Glass Onion: A Knives Out Mystery Review: As Sharp as the First One, But in a Go-Big-or-Go-Home Way, and Daniel Craig Once Again Rules". Variety. Besoek op 11 September 2022.
  14. Lemire, Christy (23 Desember 2022). "Glass Onion: A Knives Out Mystery". Roger Ebert. Besoek op 30 Desember 2022.
  15. Bradshaw, Peter (23 November 2022). "Glass Onion: A Knives Out Mystery review – Daniel Craig's drawling detective is back". The Guardian. Besoek op 30 Desember 2022.
  16. McHugh, Calder (24 Desember 2022). "'Glass Onion' Is Actually About Living in the Age of Musk, Ye and Trump". Politico. Besoek op 24 Desember 2022.
  17. Downie, James (23 Desember 2022). "How Netflix's 'Glass Onion' exposes the Elon Musk myth". MSNBC. Besoek op 24 Desember 2022.
  18. Watercutter, Angela (23 Desember 2022). "Rian Johnson Knows Glass Onion's Tech Bro Looks Very Familiar". Wired. Besoek op 24 Desember 2022.

Skakels

[wysig | wysig bron]